Vlerkprou

’n Moderne seilvlerkprou in Hawaii.
’n Dubbelvlerkprou in die Filippyne.

’n Vlerkprou (Engels: outrigger canoe, Taiwannees: monga; Filippyns: bangka; Indonesies: jukung; Maori: waka ama; Hawais: waʻa; Tahitiaans en Samoaans: vaʻa) is ’n soort kano met een of meer syvlerke wat aan een of albei kante van die romp vas is. Klein kano's het dikwels net een vlerk, terwyl groteres óf een of twee kan hê óf ’n dubbelromp, soos ’n katamaran. Die seilkano's is ’n belangrike deel van die Polinesiese erfenis. Vlerkprouvaart word beoefen in Hawaii, Tahiti en Samoa en deur die Maori's van Nieu-Seeland. Dit is ook baie gewild in Puerto Rico.

Anders as ’n kano met net ’n romp, word ’n vlerkprou of dubbelrompkano stabiel gehou deur die afstand tussen sy vlerke of rompe, eerder as die vorm van elke individuele romp. As sulks is vlerkproue of dubbelrompkano's se romp(e) gewoonlik langer, nouer en hidrodinamies doeltreffender as dié van enkelrompkano's. Hulle kan baie vinnig wees en kan in onstuimiger waters stabiel bly.

Die vlerkprou se vlerk word in baie Maleis-Polinesiese tale die ama genoem. Die sparre wat die vlerke aan die hoofromp verbind (of die twee rompe van ’n dubbelrompkano) word in Hawais die ʻiako en in Maori die kiato genoem, met soortgelyke woorde in ander Polinesiese tale.


Developed by StudentB